Grenoble

Grenoble
Capitale des Alpes

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Frankryk Frankryk
 Région (Admin. gewes) Auvergne-Rhône-Alpes
 Département Isère
 Koördinate 45°11′N 5°43′O / 45.183°N 5.717°O / 45.183; 5.717
 Stigting Voor 43 v.C.
 Oppervlakte:  
 - Totaal 18,13 vk km
 Hoogte bo seevlak 204-600 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2012) 160 215
 - Bevolkingsdigtheid 8 837,0/vk km
 Tydsone UTC +1
 - Somertyd UTC +2
 Burgemeester Éric Piolle (EELV)
 Amptelike webwerf Grenoble

Grenoble (Frans: [gʀəˈnɔbl]; Arpitaans: Grenoblo) is 'n stad in die suidweste van Frankryk. Met 'n bevolking van 160 215 (in 2013) is die vroeëre hoofstad van die historiese provinsie Dauphiné en huidige administratiewe setel van die département Isère die derde grootste nedersetting in die gewes Auvergne-Rhône-AlpesLyon en Saint-Étienne.

Saam met aangrensende nedersettings vorm Grenoble die tweede grootste agglomerasie in Rhône-Alpes met 'n bevolking van sowat 515 000 (die elfde grootste in Frankryk) en word – as grootste nedersetting in die Alpestreek nog voor Innsbruck in Oostenryk en Bolzano (Bozen) in Italië – dikwels ook die "hoofstad van die Alpe" (capitale des Alpes) genoem.

Die gedokumenteerde geskiedenis van Grenoble strek oor 'n periode van meer as 2000 jaar. In die Gallies-Romeinse tydperk was dit 'n klein nedersetting wat aanvanklik as Cularo en later as Gratianopolis bekendgestaan het. In die 11de eeu het die grawe van Albon politieke en ekonomiese betekenis aan Grenoble gegee as hoofstad van die provinsie Dauphiné. Hierdie status, wat ook ná die inlywing van Dauphiné by die Koninkryk Frankryk bevestig is, het ook in die volgende eeue tot Grenoble se groei bygedra. Weens sy ligging naby die grens met Savoje is dit later ook tot 'n militêre pos en vestingstad uitgebou.

Die bewoners van Grenoble, wat in Frans Grenoblois genoem word, het hulle in die loop van die geskiedenis verskeie kere besonderlik onderskei, soos byvoorbeeld gedurende die Italiaanse oorloë, die Franse Rewolusie of die Tweede Wêreldoorlog. Daarnaas het die stad ook steeds weer aan die voorfront van maatskaplike en wetenskaplike vooruitgang gestaan. Vanaf die 18de eeu het Grenoble tot 'n belangrike nywerheidsentrum ontwikkel, aanvanklik danksy die vervaardiging van handskoene, en later, vanaf die 19de eeu, danksy die vestiging van waterkragsentrales in die omgewing.

Die sterkste groei het Grenoble gedurende die sogenaamde Trente Glorieuses ervaar, die periode van ekonomiese opswaai tussen 1945 en 1973 wat sy hoogtepunt in 1968 bereik het toe Grenoble as gasheerstad van die Xde Olimpiese Winterspele opgetree het. Grenoble het vervolgens tot 'n beduidende Europese sentrum vir wetenskappe en navorsing ontwikkel. Grenoble is die tuiste van baie wetenskaplike navorsing sentrums soos die European Synchrotron Radiation Facility of Minatec (nanotegnologie).


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search